Johan Erasmus
Onthou jy die sogenaamde Schweizer Reyneke skool voorval in 2019? ‘n Foto was geneem van ‘n klein klassie en dit het op die oog af gelyk soos apartheid era diskriminasie. Klomp politieke partye het die rasse kaart gespeel en hul bes probeer om die juffrou en skool te ‘kanseleer’. Toe die ondersoek uiteindelik bevind dat die juffrou en skool onskuldig is aan segregasie en diskriminasie, was die reaksie van die polities linkses teleurstellend. Hulle het nie jammer gesê vir ‘n fout wat gemaak is nie. Hulle het nie introspeksie gedoen oor ‘n sosiale media kultuur wat konstant opsoek is na die volgende ding om oor woedend te wees nie. Hulle het, sonder om te blik of te bloos gesê dat alhoewel rassisme dalk nie in hierdie geval bewys kon word nie, is daar steeds ‘n reuse probleem van segregasie en diskriminasie in Suid Afrikaanse skole. Hierdie het nie net in 2019 gebeur nie, dit gebeur elke week en elke keer is ek net ‘n bietjie meer moedeloos met ‘n wêreldbeskouing wat alles deur die rasse lens sien. In my meer nugtere oomblike besef ek wel dat daar tog steeds rassisme is en met ons geskiedenis kan mens sekerlik ‘n bietjie begrip hê vir baie se rasse senstiwiteit . Ongeag, dit bly frustrerend. Om iets verkeerdelik te gebruik vir n goeie doel is steeds verkeerd. Om rassisme teen te staan is reg, maar om ‘n onskuldige juffrou te kruisig in diens van ‘n nie-rassige toekoms, is verkeerd.
Onthou jy die sogenaamde Michiel Kuhn mediese voorval in 2021? ‘n Foto van ‘n mislukte mediese aansoek, van een van ons land se top presteerders is deur die Universiteit van Kaapstad afgekeur. Klomp politieke rolspelers het die rasse kaart gespeel en hul bes probeer om die universiteit te ‘kanseleer’. Hoe is dit moontlik dat iemand met ‘n algemene gemiddeld van 96% nie die keurings vereistes gemaak het nie? Toe die universteit uiteindelik die kans kry om te reageer het hul uitgewys dat die student sy aansoek onttrek het en daarom het hy nie die keurings vereistes gemaak nie. Vir een of ander rede is een van die Universiteit van Kaapstad se keurings vereistes dat jy nie jou aansoek onttrek nie, skokkend, ek weet! Die reaskie van die polities regses vir die oorhaastige speel van die rasse kaart was egter teleurstellend. Jammer was daar nie gesê nie en introspeksie was daar nie gedoen nie. In Dirk Hermann se skrywe vir Maroela Media kry homself om te se ‘Michiel se brief was dalk ‘n foutjie’, maar tog gebruik hy die res van sy artikel om sy volgelinge te herinner aan die ‘struggle’. In my meer nugtere oomblike kan ek toegee dat BEE in baie gevalle sleg aangewend word en het selfs ‘n bietjie begrip vir die kwota sensitiwiteit.
Maar meestal kry ek egter net baie de-ja-vu.
In ‘n gepolariseerde land soos Suid Afrika sukkel die radikale linkes en konservatiewe regses om middelgrond te kry. Ek is egter bly om te rapporteer dat hul darem die rasse-kaart in gemeen het.