Deur Thomas Dreyer

‘n Betereinder kla nie, doen goed en werk saam almal!

Dis hoe ek baie graag wil wees maar baie keer is dit nie hoe ek is nie.  Ek kla graag, sukkel om regtig my hande vuil te maak en voel baie keer gemaklik om op my eie aan te karring. 

Die dat ek so bly is vir goeie vriendskappe met regtige betereinders soos Oupa Nkoana en Johan Erasmus en Malebo Phago and Ayanda en Mamma Phillipine. 

Jy sien ek hou van my studeerkamer, my veilige plek met my baie boeke en gedagtes.  Nie dat dit ‘n slegte of verkeerde plek is nie.  Ons moet die Here lief hê met ons hele verstand.  Oor tyd het ek egter geleer dat dié deel vir my die maklikste kom en dus so maklik ‘n wegkruipplek word vir die uitnodiging om Jesus lief te hê met my hande en voete ook.  Anders gestel:  Ek raak maklik uit ritme uit of ongebalanseerd!  Hiervoor het Jesus vir my goeie vriende gegee wat met my maak soos Hy met sy dissipels gemaak het toe hy fisies hier op aarde was.  Deur hulle, vat Hy my ook na plekke toe waar ek nie sommer op my eie sou kom nie. 

So word ek een Donderdag saam gesleep Hammanskraal (‘n township noord van Pretoria) toe om tyd te spandeer en by hierdie groepie beterienders te leer, terwyl hulle mense van daardie arm gemeenskap op lei om basiese entrepreneurskap te verstaan en groente tuine te plant.  Ek sê nou die gemeenskap is arm, maar dis nie heeltemal waar nie.  Hulle is materieel baie armer as ek, maar hulle is so ryk in terme van verhoudings en omgee vir mekaar en vir vreemdelinge.  Trouens, hulle is baie ryker as ek in gasvryheid en omgee vir mekaar. 

Daar’s min of meer sestig mense by Ramotse Gereformeerde Kerk wat kom om te leer.  Daar is klein kindertjies en selfs ‘n oom van 101 jaar oud wat nog pik swaai en ‘n ouderling is in die kerkie en iets van alles tussen in: ooms, tannies, jongmense, kinders almal het kom leer . . .

Ekself leer min van entrepreneurskap en groente tuine want dinge gebeur hoofsaaklik in Setswana en ek verstaan baie min, en ek is op nuut hartseer oor hoe my bevoorregte groot word my benadeel het! Dit was nooit nodig vir my om iets anders as Afrikaans of Engels te leer nie en nou is ek vir die eerste keer n bietjie spyt oor dit. Tog leer ek baie.  Ek leer van my land en sy storie en ek hoor weer dieselfde boodskap wat ek so nodig het en elke keer hoor by sulke geleenthede:  Thomas, jy hoort hier in hierdie land tussen hierdie mense, jou mense.  Hier’s vir jou plek.  Hier sal altyd plek wees vir mense wat nie kla nie en wat goed doen en wat wil saam werk!

Ek hoor dit by die Savemore winkel waar ek en Lizzie moet gaan kos koop vir almal.  Sy’s ‘n enkel ma van twee en baie beïndruk met haar “umhlungu-assistent” vir die dag.  Ek moet trollie stoot en dit vat my regtig ‘n rukkie voor ek besef ek’s die enigste Afrikaner in ‘n winkel wat stampvol mense is.  Dit vat ‘n rukkie, want niemand hanteer my asof ek nie daar hoort nie.  Sy lag lekker vir al my dom vrae en dis vir haar glad nie moeite om my reg te help nie.  Die stukkende “power dynamics” van ons land se geskiedenis is op sy kop gedraai.  Ek is die onbeholpe wit man.  Sy’s die kundige swart vrou.  Ek is totaal en al afhanklik van haar.  Ons steel per ongeluk saam sop.  Ons het dit onder die koolkoppe vergeet.  Ons lag saam.  Sê saam jammer.  Almal is vriendelik en hulpvaardig en ek voel soos net nog ‘n Suid-Afrikaner wat kom kos koop.   Ek hoort hier. 

Ek hoor dieselfde by die ou oom in die parkie waar ek en Johan gaan stap voor middagete.  Hy stop met sy kruiwa vol grond en verwelkom ons in die mooiste Afrikaans.  Hy praat opgewonde oor sy werk by Woolworths en sy paar dae se verlof om sy eie groente tuin reg te kry vir die winter en oor die kerk – hy gee lewens advies asof ons maar net nog twee jongmanne is met wie hy iets van sy lewenswysheid móét deel.   Ek besef: hier is nog ‘n betereinder wat nie kla nie en goed doen en wat wil saam werk.  Ek en hy hoort hier!

Ek ry die aand met ‘n vol hart terug en leer by my passasiers, David en Donald en Ayanda van ‘n ‘kota’, die township weergawe van ‘n “bunny-chow”.  Al drie van hulle is baie ontsteld dat ek nog nooit een geëet het nie, wat my byna laat voel of ek nie hier hoort nie, maar hulle maak seker dat ons nie mekaar groet voor ons ‘n afspraak gemaak het om ‘n “kota” te gaan eet nie! 

Hulle soek my hier en hulle wil my hier hê en my deelmaak van hulle storie en my ander dele leer van ons land se storie!  Ek hoort hier . . .

My telefoon lui met ‘n halfuur se ry oor huis toe.  Dit raak al donker.  Dis die Alarm maatskappy.  Ek sê hulle moet gaan kyk want my vrou en kinders is by die huis.  Ek probeer bel.  Ek kry nie vir Erna in die hande nie.  Ek voel onrustig.  Sy bel my.  Ek is 10 minute weg.  Sy vertel kalm:  Twee gewapende mans het ons hek oop forseer en probeer inkom by ons stoep deure.  Hulle het my meisiekind gesien op haar bed en teen haar ruit kom klop en haar beveel om die deur oop te maak.  Sy’t gehardloop en geskree en my vrou het die paniek knoppie betyds kon druk en die agterdeur gesluit!  Hulle het in die kombuis in ‘n hoekie weggekruip tot Trojan gekom het.  Die mans het gevlug. 

Hoort ons hier? 

My familie se getuienis help my om opnuut te sê, JA!  Jawé (my dogter) sê vir my: ‘Pappa, dit het my so rustig gemaak toe ek vir die twee mans kyk en besef, hulle is gewone mense wat ‘n verkeerde ding doen.’  My vrou sê later ons moet vir hulle bid.  Ek vertel hulle van my dag.  Ons bid saam, oor alles, vir almal. 

Ons hoort hier!  Ons het werk hier.  Voor ek aan die slaap raak onthou ek hierdie woorde van Petrus aan ‘n gemeente wat swaarkry: 

‘Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen.’

Die Hammanskraal mense leef só.  Ek wil so leef.  Ek wil aanhou goed doen.  Ek bid:  ‘Wat ‘n opleidingsdag Here.  Ek is ‘n stadige vakleerling.  Dankie dat U nie vir my moeg raak nie.  Dankie dat U my uit my veilige studeerkamer kom haal het.  Help my om te leer om aan te hou goed doen soos ek U saam met hierdie mense volg.’

En toe slaap ek soos iemand wat hier hoort.