Hier volg ‘n paar immigrasie-wenke vir Afrikaners deur Johan Erasmus:

So jy wil immigreer? Daar is nie meer ‘n toekoms vir jou wit kind in hierdie land nie. Jy is bekommerd oor jou gesin se veiligheid of jy is net gatvol vir load shedding.
Selfs die internet weet wat jy dink. Wanneer jy google is daar ‘n klomp pop-up ads wat ‘n maklike skuif na Kanada en Australië belowe.

Hierdie is goeie redes om ‘n skuif te oorweeg, trouens ek het baie begrip daarvoor. Wat my wel frustreer is hoe ‘Christelik’ my vriende eweskielik raak wanneer hulle immigrasie bedink. Diegene wat voorheen relatief apatiese en kulturele Christene was, gebruik nou sinne soos, ‘as hoof van my gesin’ en ‘dit is maar ‘n gebedsaak’.

Kom ons bespreek jou nuutgevonde gebedslewe sommer eerste. Die meeste van die tyd wanneer Bybelse figure bid, dan is dit nie om weg te hardloop van ‘n probleem af nie, dit is om krag te kry om die probleem aan te spreek (en wanneer hulle weghardloop van ‘n probleem af dan neem hulle soveel as moontlik mense saam met hulle).
Ek let ook op dat jou Jesus nie vir ‘n werksvisum in Kanada aansoek gedoen het toe hy nie meer ‘ ‘n toekoms vir homself gesien het nie’. Wanneer mense in die Bybel ‘immigreer ‘ dan is dit hoofsaaklik omdat hulle geroepe is om iets ongemaklik elders te doen, baie selde was dit om te trek wanneer dinge skielik nie meer so gemaklik of veilig is soos vantevore nie.
Verstaan my egter mooi. Jy kan doen wat jy wil, jy het die volste reg om te immigreer, wanneer en waarheen jy wil. Ek is self beïndruk met hoe skoon Sydney is en ek is seker Toronto se publieke vervoer werk baie beter as ons s’n. Moet asseblief net nie hierdie piëtistiese Christelike taal aanneem en jouself flous dat dit jou hoofmotivering is nie.
Want indien dit werklik die geval was dan sou jy êrens die volgende sommetjie kon gedoen het. Die meeste van ons huidige vlugtelinge wil Kanada of Australië toe gaan – twee van die mees sekulêre lande in die wêreld. Boonop is dit ook ‘n vrek gemaklike sekulêre lande. Dit is egter ‘n slegte kombinasie as jy wil hê jou kind moet haar geloof behou. ‘n Sosiale omgewing waar baie min mense glo (trouens, hulle praat bietjie stadiger met jou as hul hoor dat jy denkbeeldige maatjies het), maak geloof oor die langtermyn baie moeilik. Meng dit verder ook nog met materiële gemak en Wormwood en Screwtape klink sommer ‘n glasie sjampanje op jou.

Jou kind gaan waarskynlik verlief raak op ‘n oukie of meisie wat nie die Here ken nie en jou kleinkinders gaan statisties gesproke waarskynlik agnosties of ateïste wees. Ek moet weereens beklemtoon dat dit alles fine is met my. Jy en jou kinders kan glo wat julle wil, maar weet net dat dit jou sogenaamde Christelike oorweging was om met hulle na daardie omgewing te verhuis wat aansienlik bygedra het tot jou kinders en kleinkinders se ongeloof.

As jy eerlik is met jouself sal jy erken dat wat jy eintlik sê is dat jou kind se gemak (of veiligheid) belangriker is as haar siel. Om haar in ‘n omgewing te hou waar ander mense hul geloof ernstig opneem asook ‘n plek waar hulle moontlik met meer ongemaklike goed gekonfronteer word, soos onder andere armoede, is dan minder belangrik as hul gemak.
Ek twyfel regtig of jy eendag voor die Here gaan staan en Hy vir jou gaan vra: ‘Ek hoop regtig die publieke vervoer in Sydney het jou tevrede gestel my kind? Ek hoop jy het altyd gemaklik en veilig gevoel?’

So hier is twee stukkies advies:
As jy wil immigreer, wees eerlik. Sê dat jy meer gemaklik gaan wees elders, totdat dit natuurlik ook daar ongemaklik raak en jy dan weer kan skuif na die volgende plek wat gemaklik is. So gaan jy jouself waarskynlik ‘n wêreldburger’ kan noem, maar dis ‘n eufemisme vir ‘selfsug’. Moet daarom eerder nie maak of dit jou Christelike plig was nie.
As jy wel gaan, maak seker dat jy gaan met ‘n missie en nie net omdat jy vlug nie. Gaan dien daardie Westerse land se mense. Daar is baie Suid-Afrikaners wat dit probeer doen en ek het daarvoor respek. Vir die res van julle wat hier bly wil Betereinders uitnooi om te immigreer, maar kom Suid-Afrika toe. Hier is ‘n reuse geleentheid om nie bloot gemaklik te wees nie, maar iets veel beter naamlik, betekenisvol. Daarom gaan ons aanhou om rasse-groepe met mekaar te rekonsilieer en armoede te beveg. Daarom gaan ons veg vir ‘n beter einde tot die bitter einde.