Skhokho Sangempela
en
Verbrande Reënboë

Enige haas kan afbreek. Om uitmekaar te trek en stukkend te maak is so maklik soos dit volop is. Desmond Tutu het in die negentigs aan ‘n versigtige, verdeelde zebra-nasie ‘n nuwer, voller en mooier droom gegee. Hy het die betwiste Nuwe Suid Afrika ‘n kleurvolle, hoopvolle Noagnaam gegee, soos ‘n profeet wat ‘n droom in ‘n woord kon vervat en dít nog in ‘n prentjie wat op die lippe van ‘n volk en ‘n land was.

 

Twintig jaar later en die Noagwoord het ‘n vloekwoord geword. Die beeld en belofte van redding, ‘n saamstaan belofte dat ons nooit weer in apartwees sou verdrink nie is uitmekaar geskeur en voor die voete van valsverligtes gegooi. Ook verkramptes wat die reënboog droom wantrou het, het gekap met verwysing na ‘etniese realisme’. Die kritiek was, en is, teen ongelykheid en seker met reg. Tog het Tutu se reënboog nooit oor die potte goud gegaan nie, maar die beheptheid met vleispotte van goud, het sy droom van saamstaan bankrot verklaar. Mammon (vermom as kapitalisme) speel nie mooi met ander nie, soos ‘n middelvinger like hy van alleen staan en saam sy tjommie, die Wet van Transvaal, het die geldgod, die ekonomiese stootskraper, sy pond vleis, en grond en aandele kom eis. Ons kon nooit aan die einde van die reënboog kom nie. Die reënboog was nie bedoel om ‘n beskrywing van ekonomiese gelykheid te wees nie. Die reënboog was nie eers bedoel om ‘n refleksie te wees van rasseverhoudinge nie. Die reënboog was ‘n droom, van hoe dinge kon wees, moes wees, moes word. Maar soos goeie tieners het ons in ‘n bui van stuipe daardie droom onder ons protespootjies vertrap.

Ons speel deesdae met ‘n nuwe idee, ‘n nuwe prentjie en dit is risky business. Die mooiste dinge word maklik clichés, gewoonlik weens herhaling en hulle verloor maklik hulle hoendervleiseffek. Dit is juis die uitnemendheid van ‘n beeld wat hom ophys teen ‘n vlagpaal wat ‘n kruis sal word, vra maar vir oom Des. Ons praat vandag versigtig van ‘n nuwe prentjie, ‘n nuwe prentjie om ons te help droom en om ons verbeelding aan te gryp. Ons is versigtig want ons weet wat slim mense met drome doen. Met die geboorte van ‘n prentjie hou ons ook sommer begrafnis, want voor hy nog kan wapper sal hy verfladder word, deur slim mense. Selfs sy mooi paadjie sal tot ‘n einde kom as sy beelde en woorde oudheids en affronterend word. Ons groet en groet vir Skhokho, hi en baai.

 

Wat is skhokho? Dit is die harde aanbrandsel wat agterbly onder in ‘n pot pap (krummelpap). Die skhokho kors is ‘n gunstelling wat lekker herkou word, die volgende dag werk toe geneem word en selfs saam bietjie kondensmelk in ‘n lekkerny omskep word. Die skhokho kors is die aanbrandsel wat agterbly in die pot. In Suid Afrikaanse townships is skhokho dan ook ‘n tsotsitaal bynaam vir enige ‘tough guy’. ‘n Skhokho is die teenoorgestelde van ‘n nerd. Jy smile nie as jy ‘n Skhokho groet nie, jy gee net ‘n effense kopknik van erkenning, en sê dalk bot: “Sho Skokho”.

Hier’s die ding: ons as boertjies, Afrikaners, Umlungus (insert enige ongemaklike beskrywing) kan African wees, African word. Ons kan Skhokho’s wees, Skhokho word. Verbeel jou ‘n lekker groot swart driepoot potjie wat op ‘n houtvuur staan. Fluffy wit goed word in die swart potjie gegooi en ‘undercooked’ is die rou wit krummels nie van veel waarde nie. Soos die vuur warmer word en die water begin kook, spring dele van die mieliemeel dalk uit en gaan prut elders, soos Kanada of Australië. Ander wit korrels prut te lekker en bly in die pot terwyl hulle wolf skreeu en hulself as paddas sien wat deur ‘n denkbeeldige presidensiële vyand bietjie-bietjie gekook word.

Soos die pot warm word, word die pap gaar en bruikbaar. Die wit korrels op die voorste linies word hard. Hoe meer BEE, hoe meer kwotas, hoe meer ‘land thief’ aantuigings, hoe harder word die nuwe Skhokotjies. Maar die hard word is nie ‘n verharding van hart nie, dis ‘n sterk word, ‘n ophou kla, ‘n vasberadenheid. Die Skhokho’s is bittereinders en omdat hulle veg vir ‘n inklusiewe beter einde word hulle ook deesdae so genoem. Nie meer bitter nie, maar beter. ‘n Wit Skhokho is per definisie iets tussen windgat en pateties en jy vat hom (of haar) met ‘n knippie sout. Die Skhokho voel tuis in sy swart pot, sy liefde vir Afrika lê nie in sand of grond nie, maar in die mense van Afrika, daai hulle wat ‘n ons word.

Sangempela beteken ‘vir altyd’, for life. Ons sal die hardebaarde wees wat bly al raak dinge moeilik, of al dink party mense dinge raak moeilik. ‘n Skhokho is ‘n Skhokho vir altyd. Toe ons destyds uit volle bors gesing het “ons sal lewe ons sal sterwe, ons vir jou Suid Afrika”, het ons gejok? Het ons eintlik bedoel ons sal lewe en sterwe, solank ons in beheer is en dit ons pas? Na 94 was die tafel gedek om te wys of ons integriteit het. Ons weet al ‘When the going gets tough the tough gets going’, going, of in die geval: staying. Maar ons bly met ‘n doel en ons bly met ‘n postuur. Ons slaan nie terug nie, ons staan terug. Die terugstaan maak plek, plek vir asem haal, raak sien, saam werk, hande vat; selfs plek vir taxi’s.

 

Sedert 1652, voor en na 1838, reg deur 1961, deur 1994 bly ‘n roepstem ons uitnooi: Kom tuis, jy is tuis, jy is welkom, jou kind is welkom- vat dit net en hou op spartel. My imstaying het nie ‘n sogenaamde reënboog baadjie aan wat weg wens of verblind nie. My hieromtebly dien, maak reg, sê jammer, leer lesse, maak planne en gedra hom. Die Skhokho wat bly, ken sy pot, ken sy plek en soek nie maanskyn en rose nie. Meer drama, meer rooi hoedjies, meer kerse, meer gate, meer probleme? Bring it on: meer vuur – maak meer Skhokho.

* Terloops, vir die slimkoppe: natuurlik het die prentjie en metafoor honderd problematiese moontlikhede, so laat waai, ruk hom uitmekaar, dis te verwagte. So leer ons mekaar ken.